VOORLOPIGE MEDIAVRYSTELLING
geskryf deur Dirk Uys, Boereplaas Plate.
20th September 2001

VLOEK VAN DIE KITAAR – 18 Afrikaanse Rock Monsters

Die ontwikkeling van Afrikaanse rock, 1979 tot 2001.

Setting the record straight – literally.

Geagte lede van die media en mede kollegas in die musiekindustrie en vermaaklikheidsbedryf.

Die snelle ontwikkeling en groei van Afrikaanse Rock, veral oor die laaste vyf jaar het my genoop om alle belanghebbende partye in te lig oor die werklike toedrag van sake en om veral wanopvattings en mistastings uit die weg te ruim.

Die eerste taak op hande was om ‘n album van Afrikaanse Rock songs saam te stel om die lewenskragtigheid van hierdie genre in die regte konteks aan te bied en om terselfdertyd te begin met ‘n historiese oorsig om die luisteraar volledig in te lig.

Ek het besluit op die titel Vloek van die Kitaar omdat dit die gebeure van die laaste 21 jaar die beste versinnebeeld. Die skrywer en sanger van hierdie apokaliptiese meesterstuk, Valiant Swart, het die titel goedgunstiglik vir hierdie album geleen. Valiant het ook sy wens uitgespreek om te help skryf aan die finale mediavrystelling. Hy is tans in die VSA en het gelukkig net-net die verskriklike gebeure daar misgeloop.

Vloek van die kitaar is essensieel ‘n Afrikaanse kitaar rock album wat die krag en energie van die opwindende genre so goed as moontlik weerspieel. Dit bevat ook ‘n goeie 70% Afrikaanse rock geskiedenis wat nie in chronologiese volgorde saamgestel is nie, maar wel in ‘n logiese musikale geheel verweef is. Die album se eerste klompie snitte rock dat dat die biesies bewe, wat dit ook ‘n uitstekende paartie plaat sal maak.

My voorneme is om met Vloek 2 en Vloek 3 die omvattende Afrikaanse Rock repertoire in ‘n logiese geheel aan die luisterpubliek te lewer. Die album sal ondersteun word deur navorsing en inligting wat ‘n korrekte prentjie sal skilder.

Die kunstenaars wat op Vloek van die Kitaar verskyn is:

Anton Goosen, Koos Kombuis, Valiant Swart, Piet Botha, Bernoldus Niemand, Springbok Nude Girls, Beeskraal, Akkedis, Spinnekop, Battery 9, Brasse Vannie Kaap, Karen Zoid en Raaskopleef.

Ander kunstenaars wat ook Afrikaanse Rock maak of gemaak het soos David Kramer en Johannes Kerkorrel sal op Vloek 2 verskyn wat reeds in produksie is en vroeg volgende jaar vrygestel sal word. Ek kon ongelukkig nie die kitaarsnitte van David Kramer gebruik wat ek wou nie, omdat dit weens ‘n lisensieringsverpligting nie nou vrygestel kan word nie.

Johannes Kerkorrel se songs wat meer klawerbord gefundeerd is het nie gemaklik ingepas tussen die swaar kitaarsnitte nie. Ek het derhalwe besluit om hierdie snitte eerder op Vloek 2 te sit, wat meer van ‘n eklektiese samestelling sal wees. Op hierdie CD sal Afrikaanse rockgroepe soos Khaki Monitor, The Kerels, The Genuines, K.O.O.S. , Randy Rambo en Die Radiators. Daar is ook nog meer as ‘n handvol nuwe Afrikaanse rockgroepe waarmee ek werk wat hul beurt op nommer 2 sal kry.

Vloek van die Kitaar sal tydens die jaarlikse Aardklop Kunstefees vrygestel word.

Die tweede taak wat my te beurt geval het was om met hierdie mediavrystelling die gevoel van die oorgrote meerderheid van die Afrikaanse Rockers oor te dra aangaande die onnodige en verkeerdelike gebruik van die woord alternatief of sogenaamde alternatiewe Afrikaanse musiek.

Die feit van die saak is dat daar nie werklik ‘n genre soos alternatiewe Afrikaanse musiek bestaan nie. Valiant Swart het tereg opgemerk dat alternatief geskiedenis is. Hierdie mistasting het sy ontstaan te danke aan ‘n beweging wat ek in 1987 aan die gang gesit het, waarna later verwys is as die Voelvry beweging, of die Alternatiewe Afrikaanse Rockbeweging. Die beweging het egter ‘n natuurlike dood gesterf in Februarie 1990 toe Nelson Mandela vrygelaat is en SA vorentoe beweeg het na ‘n demokrasie. Die primere doel van die Voelvry beweging was om te help om ‘n demokrasie in Suid Afrika te bewerkstellig. Ons het ons doel bereik, en het in verskillende rigtings gespat.

Koos Kombuis het afgetrek Stellenbosch toe. Johannes Kerkorrel het die hoofstroom betree met nuwe materiaal by ‘n hoofstroom platemaatskappy. Bernoldus Niemand het weer begin fokus op sy Engelse materiaal met sy band The Cherry Faced Lurchers. Ek is na die Voelvry toer deur IDASA (Instituut vir ‘n Demokratiese Alternatief vir Suid Afrika) aangestel om ‘n subversiewe Afrikaanse kunstefees te beplan en te organiseer. Die skielike ontbanning van verbode politieke partye en organisasies asook die vrylating van Mandela in Februarie 1990 het my projek oorbodig gemaak en ek kon kies om in die organisasie aan te bly of om te bedank en aan te gaan met my Rock ‘n Roll loopbaan. Ek het laasgenoemde gekies.

Op versoek van Koos Kombuis het ook afgetrek Stellenbosch toe en onmiddelik begin werk met die talentvolle jong Valiant Swart. Die Voelvry beweging was verby, en ons kon nou suiwer op musiek ter wille van musiek konsentreer. Afrikaanse rock het ‘n toekoms gehad, maar daar sou nog ‘n paar harde jare voorle.

Regdeur die negentigs het mense soos ek, Valiant, Koos, Piet Botha en Akkedis altyd na ons musiek verwys as Afrikaanse Rock. Die verslaggewing in die musiek pers en algemene media was redelik akkuraat en het die publiek ‘n redelike idee van ons musiek gegee.

Groot irritasie het egter begin inkruip toe daar ‘n kompilasie album met die titel Alternatief op sy beste deur ‘n oppurtunistiese platemaatskappy (Hoezit musiek) uitgereik is sonder die toestemming of medewete van die meeste van die kunstenaars wat daaropverskyn. Verskeie van die kunstenaars was op daardie stadium by Wildebeest Records en die eienaar van daardie maatskappy het sonder die kunstenaars se medewete snitte toegestaan aan die kompilasie. Die komplikasies voorspruitend uit hierdie CD was veelvuldig.

Eerstens het dit kunstenaars wat nooit deel was of deel wou wees van die sogenaamde Alternatiewe Afrikaanse Rockbeweging nie, saamgegooi in ‘n pseudo genre wat in elk geval nie werklik bestaan nie. Senior Afrikaanse Rock kunstenaars soos Anton Goosen en Valiant Swart was veral briesend hieroor omdat beide oor die jare versigtig weggebly het van hierdie banale tipering en onnodige kategorisering.

Om die realiteit verder te vertroebel het sommige oningeligte joernaliste begin verwys na enige Afrikaanse band met kitare en dromme as alternatief.

Hierdie mistasting het so absurd begin raak dat ‘n Boerseun geklee in khaki klere met konsertina in die hand (Beeskraal) as alternatief beskryf is.

Hierdie verkeerde informasie is verder besig om die publiek te mislei en die meeste van die kunstenaars die moer in te maak

Om dinge te vererger het die meeste van die Wildebeest kunstenaars nog geen tantieme ontvang vir die snitte wat sonder hul medewete op die kompilasie verskyn het nie. Verder word die bona fides en legitimiteit van Hoezit musiek wat die kompilasie uitgereik het, sterk betwyfel omdat hulle geen bydrae gelewer het tot die vestiging en ontwikkeling van Afrikaanse Rock nie. Inteendeel, niemand het eens geweet dat hulle bestaan nie.

Ek voel dat ek op hierdie stadium genoeg oor bg. aangeleentheid gese het.

‘n Meer volledige mediavrystelling sal op latere stadium uitgereik word en onderteken word deur verskeie betrokke kunstenaars.

Ons verstaan die noodsaaklikheid daarvan om musiek te kategoriseer, veral vir mediagebruik met resensies en om as hulpmiddel te dien om die leser of luisteraar ‘n musikaal geografiese verwysing te gee.

Nie een van ons wil voorskriftelik wees nie – rock ‘n roll bots in elk geval direk met enige vorm van konvensie. Daar is egter baie interessante en lekker benamings om die vele fasette van Afrikaanse rock te beskryf.

Ek het byvoorbeeld die volgende beskrywings vir sekere musiekstyle gebruik.

Valiant Swart: Boland Punk, Wingerdrock, Brandewyn Blues.

Anton Goosen: Afrikaanse Rock, Boerebop, Binneboudskoffel.

Beeskraal: Boere-Rock, Kraalvastrap, Tropmoles.

Piet Botha: Boere-blues, Blues-rock.

Akkedis: Reptielrock of Gatskop Afrikaanse Rock

Battery 9: Industriele Rock

Spinnekop: Giftige Afrikaanse Rock

Brasse Vannie Kaap: Cape Flats Hip Hop

Hierdie bogenoemde idees is maar net ‘n voorbeeld van hoe die musiek meer verbeeldingryk beskryf kan word en is nie vasgestelde terme nie.

Ek bedank u graag vir u tyd en die bydrae wat u tot oorspronklike SA musiek maak. U is welkom om my enige tyd te kontak indien u meer inligting verlang.

Die volledige persverklaring vir Vloek van die Kitaar sal uitgereik word by Aardklop.